Walvis Stap.jpg (65463 bytes)

Die Walvisroete – "Dis meer as net afsondering – dis algeheel oorgawe" – lui die slagspreuk op die pragtige sakgrootte stapkaart wat elke stapper ontvang.

Die kaart beskik oor allerhande interessante en handige inligting – voorwaar ‘n bonus! Onthou om genoeg water elke dag saam te dra!

Die Walvisroete tel, wat ons groep aanbetref, onder die beste 3 staproetes in die land. Absoluut ‘n moet, ‘n uitsonderlike buitegewone wandelpad ervaring!

Waarom Walvisroete? Die seegebied sluit die broeiplek in van die suidelike noordkaper – walvis. Daar word bereken dat ongeveer 120 individule walvisse elke jaar na De Hoop terugkeer om te kalf en te paar en het ons Walvisse gesien! Ons het later ophou tel. Jy vergeet skoon van die staproete en staan hoelank vasgenael en vergaap jou aan hul manewales!

Am9.jpg (68367 bytes)009.jpg (32489 bytes)

Oppad 'n pont oor die Breederivier                                                                         Potberghut

Die eerste oornaghut, naamlik Potberg, is soos al die ander hutte, netjies toegerus en dan ‘n verrassing: ‘n groot kaggel met braaiplek binneshuis! Met ons ysige koue en reën, voorwaar ‘n uitkoms!

 

Dag 1 gaan vir 14,7 km vanaf Potberg na Cupidoskraal. Dis die taaiste deel van die stap en stappers moet beslis vroeg begin. Die baken is by 611 m bo seespieël – die hoogste punt van die roete. ‘n ou mot fiks wees – dis nogal ‘n taai klim, dog met baie slim gekontoerde stappaaie. Die proteas en ericas was in volle blom en ‘n absolute lus vir die oog!

010.jpg (36769 bytes)

Wonderlike vergesigte wag vir jou bo en soos jy daarna afsak. Die Breede Rivier kronkel deur groenlande, Swellendam en die Langeberge op die horison, Witsand en Infanta. Intussen sweef die Kaapse aasvoëls kort-kort oor jou kop.

DX-4.jpg (48583 bytes)011.jpg (37788 bytes)

Die Melkhoutrivier is ‘n lieflike plek vir middagete. (onthou net, dis die 2de rivier en die cokekleurige water kan gedrink word) Maak voorsiening vir kwaai reën en woeste winde en koue as jy in die wintermaande stap – ons het gelukkig oorleef, maar dit was vasbyt! Met die klank van die wind wat loei, het ons heerlike voor die kaggel kaart gespeel/geskul?!

Dag 2 is 14 km lank en gaan van Cupidoskraal na Noetsie. Die roete volg die kruin van Potberg deur pragtige bergfynbos met ongeëwenaarde tonele van die Indiese Oseaan en die Breederivier.

014.jpg (48821 bytes)

Later laat jy Potberg agter en gaan oor op kalksteen heuwels met betowerende fynbos en blommende geel en pers vygies oral om jou voete. Na ‘n steil rotspaadjie af, is jy by die bekoorlike baai van Noetsie. Twee lieflike hutte wag jou in. Die een ‘n slaapplek, die ander kombuis en badkamer. Hier is ‘n gasstofie en nie ‘n kaggel nie, maar wel ‘n oulike braailapa teenaan die see. Ure se lekker gesels om die vuur met die klank van brekende branders, wag hier op jou! Gewis salwing vir die siel!

DX-18.jpg (51743 bytes)

022.jpg (40009 bytes)

Dag 3 strek vir net 8 km van Noetsie na Hamerkop – dus ‘n rustige opstaan en genoeg tyd om die pragtige kuslyn en rotspoele op jou tyd te geniet. Hierdie is ‘n wonderlike dag. Stilgat is ‘n lekker plek vir middagete. (Glo ‘n ideale snorkelplek, maar ons weer het die nie toegelaat nie).

DX-23.jpg (53354 bytes)

Am4.jpg (87823 bytes)

DX-32.jpg (35459 bytes)032.jpg (41442 bytes)

Die gedenksteen vir Daantjie de Wet, wie by Rooikrans verdrink het, is ook op die pad. Na ‘n heerlike stappie kom jy by die ruim moderne hut met ‘n pragtige seeuitsig uit. Suiwer saligheid!

DX-37.jpg (47227 bytes)02.jpg (44411 bytes)

04.jpg (48874 bytes)

Dag 4 – 11 km van Hamerkop na Vaalkrans. Die dag begin met ‘n lang ent langs die see: pragtig, maar die sand trap diep en swaar – waar jy ookal stap!

Roll1DX-6-s.jpg (131716 bytes)2DX-10.jpg (29985 bytes)

2DX-24.jpg (40890 bytes)2DX-12.jpg (44697 bytes)

 

Gelukkig kan ‘n mens later bo tussen die plantegroei op ‘n paadjie stap. Die blommeprag het ons weereens sprakeloos gelaat. Voëls, onder andere die witborskormorant, is oral volop. Die tussengetypoele is fantasties!

15.jpg (50372 bytes)

Ons was gelukkig met hoogwater by die interessante blaasgate waar die golwe in die grotte spoel en dan wonderbaarlik by gate in die grotdakke uitspuit. Wat ‘n voorreg om te sien en ook ‘n lekker midagete plekkie.

Na ‘n rustige stappie – die pragtige hut by Vaalkrans wat op ‘n grot gebou is! Hier raas die see aan 2 kante en daar is soveel plekke om te verken en walvisse se baljaardery om te bekyk, dat die middag amper te kort voel.

22.jpg (49517 bytes)Roll1DX-4-s.jpg (97017 bytes)

                                                                                            Elize se steuwels - "tot hier en nie verder nie !"

Dag 5 – Vaalkrans na Koppie Aleen – 7 km. Die stuk kan baie rustig afgelê word, anders is julle soos ons groep, al 10 uur by Koppie Alleen – om dan 2 ure vir die bussie te wag!

Daar is 2 alternatiewe roetes: vir hoog en laagwater. Die laagwater langs die see en hoogwater deur kusbosse met weereens lieflike blomme en baie walvis- en voëlkyk moontlikhede! Met ‘n gevoel van groot tevredenheid en genoegdoening klim mens in die heen-en-weer diensbussie wat jou na Potberg terugneem.

stert.jpg (18640 bytes)

Die Walvisroete tel; wat ons groep aanbetref; onder die beste 3 staproetes in die land. Absoluut ‘n moet, ‘n uitsonderlike buitegewone wandelpad ervaring!

 2DX-40.jpg (35863 bytes)

NDABA Stapgroep

Vir besprekings kontak De Hoop by E-Pos:   dehoopinfo@sdm.dorea.co.za

Terug na Roetes