 |
|
|
Tsitsikamma Voetslaanpad
|
Ligging:
Die
Tsitsikamma voetslaanpad is gelee tussen Nature's Vally en
Stormrivierdorp of die brug oor die Stormsrivier. Die amptelike
beginpunt is by de Vasselot kampeerplek. Veilige parkering is
beskikbaar by die beginpunt by Devasselot.
Algemeen:
Dit is 'n 6 dag roete van 60km of
62km. Dit roete is hoofsaaklik in die Tsitsikammaberge langs fynbos,
inheemse woude, riviere en pragtige uitsigte.
Alle hutte is
uitstekend toegerus met stapel beddens, braai lapa, vuurmaakhout,
braairoosters, twee koue storte, spoel toilette, wasbakke, potte en
ketels. Stortwater kan warm gemaak word m.b.v. ketels en 'n spesiale
strorthouer. Water is standaard by elke hut. Vuurmaakhout is nie
beskikbaar by Kalander hut nie, a.g.v. die brug wat verspoel het kan
die hut nie gediens word nie, maar dit is maklik om 'n sakkie hout
saam te dra die eerste dag, slegs 2km.
Dag 1: Devasselot na Kalanderhut (3,6km)
A.g.v.
die brug wat verspoel het is die roete verander en stap mens langs
Grootrivier lagoon na die Kalanderhut, dit is slegs 2km. Goeie
advies is om vroeg na Kalander hut te gaan en die dag heerlik op die
Nature's Vally strand deur te bring. Die Kalander hut is net-net in
die bosse langs die Lagoon, naby die strand.
Stap
langs lagoon
Kalanderhut
Braai
Nature's Vally
Dag 2: Kalanderhut na Blaauwkranshut (14,7km)
Die eerste ent oor Douwurmkop in fynbos, maar die meeste van die tyd
is dit die pragtige inheemse woud.
Geleidelik
klim mens op met Blackwood path na die Tsitsikammaberge en net na
10km kry mens 'n swemgat met die kenmerkende koffie-kleurige water
van die Tsitsikamma.

Douwurmpad
Nature's Vally
Outeniqua Geelhout (Kalanderboom)

Moenie vergeet om terug te kyk vir 'n pragtige uitsig na die
Blaauwkransrivierbrug.

Die
Tolbosrivier vorm ‘n diep kloof en die Blaauwkranshut is op die rant
van hierdie kloof gelë. Vanaf die Blaauwkranshut is ‘n pragtige
uitsig op die Tolbosrivier met sy koffie-kleurige swempoele en
waterval. Die swempoele is ‘n ideale afkoel plek. In die rigting van
die volgende dag se stap is ‘n pragtige uitsig op Fromosapiek.

Dag 3: Blaauwkranshut na Keurboshut (13,4km)
Dag drie neem mens diep in die verafgeleë Tsitsikammaberge en
inheemse woude.

By ±5km kruis mens die berugte Blaauwkransrivier,
alhoewel die rivier is hier baie makliker om te kruis as by die
Otter voetslaanpad. Daar is ook ‘n ketting aangebring vir veiligheid
indien die rivier sterk sou vloei. Haal gerus die rugsakke af vir
teetyd en geniet ‘n heerlike swem in Blaauwkrans-swempoel naby die
kruising. Wat ‘n lieflike swempoel! Die res van die roete is in
fynbos en deur ‘n gedeelte van Benebos. Selfs tydens die droogte van
2010 was waterstroompies volop langs die roete.
|
 |
 |
 |
|
Roete aanwysings is
uitstekend |
Keurboshut |
So lyk 'n
voetslaners-tafel |
Dag 4: Keurboshut na
Heuningboshut (13,4km)
Weereens ‘n groot verskeidenheid en afwisseling van, fynbos,
inheemse woude, interessante rivier kruisings en uitsigte. Na
ongeveer 1,5km kruis mens die Lotteringrivier waarna “Rushes-pass”
volg. Die pas het ongeveer 300m hoogte styging, maar a.g.v. die
uitstekende uitleg van die Tsitsikamma voetslaanpad klim die hoogte
geleidelik en voor jy moeg word is jy bo en geniet jy die
pragtige uitsig.

Na “Rushes-pass” sak die roete af na die Elandsbosrivier en hier is
werklik pragtige swempoele. Dit is ongeveer by 6km en ‘n ideale plek
vir tee tyd en swem in die poele. Moenie hier verby stap nie!
Daarna volg die Heuningbos inheemse woud met reusagtige varings. Die
laaste ent sak mens af na die Kleinbosrivier en dan is jy by
Heuningboshut. In die Kleinbosrivier is weereens heerlik swempoele
en ‘n waterval.

Dag 5: Heuningboshut na Sleepkloofhut (14km)
Die grootste deel van die dag is deur ongerepte bergfynbos en die
eerste pas vir die dag is Splendid Pass, ongeveer 300 meter hoogte
styging. Splendid Pass is vernoem na die protea spesie “Mimetes splendidus”
meer bekend as “Splendid Pagoda” wat algemeen
voorkom in die pas. Na Splendid Pass is dit af na die
Wittekliprivier en dan volg Nademaalsnek.

Bo van Nademaalsnek is ‘n pragtige uitsig oor die
Stormsrivier vallei.
As mens bo in Nademaalnek staan en die uitsig geniet dan besef jy
hierdie pragtige voetslaanroete is amper verby. Kon dit nie langer
gewees het nie, sewe of agt dae….
Die laaste ent na Sleepkloofhut is deur pragtige inheemse woud.
Dag 6: Sleepkloofhut na
Stormsrivierdorp (5km)
Die laaste dag kan mens kies om by die Paul Sauer Brug
te eindig of by Stormsrivier-dorpie. Ons het verkies om by die
Dorpie te eindig en oppad na die dorpie ‘n ekstra entjie gestap na
die “Big tree”. Die laaste dag is regtig ‘n antiklimaks, nie dat die
inheemse woude nie mooi is nie, maar omdat dit die einde van die
roete is.....

In die dorpie het ons vir oulaas ‘n heerlike koppie koffie en koek
geniet by The Coffee Pot.
Opsomming:
Die Tsitsikamma voetslaanpad is beslis een van SA se top tien roetes
en 'n moet vir elke voetslaner. Baie geluk aan die personeel
van MTO Ecotourism, die Tsitsikamma is 'n uitstekende voetslaanpad
en dit word baie netjies versorg en instand gehou.
Fotos: Andries Oosthuizen, Daleen Crous en Annatjie Janse van
Rensburg.
Besprekings:
MTO ECOTOURISM
INFORMATION OFFICE
Nadia Swigelaar
Private Bag X502
Humansdorp
6300
Tel:042 281 1712
Fax:042 281 1778
Email:
ivy@cyberperk.co.za
Website:
www.mtoecotourism.co.za
Terug na Roetes
|