 |
|
|
Stewels
vir Voetslaan
|
As dit kom
by die keuse van stewels vir voetslaan, moet daar eerstens gekyk
word na iets wat jou voete die beste beskerm, veral jou voetsool.
Daarna kan jy kyk na die gewig van die stewel of enkelbeskerming,
ens.
Daar word soveel klem gelê op die voorkoming van blase, omdat ’n
voetslaner dit nie kan bekostig om ’n blaas op te doen op ’n
verafgeleë roete nie. Mens kom dikwels op ’n punt waar jy nie meer
kan onttrek nie. Die enigste wat oorbly, is om voort te stap en die
roete te voltooi . Dit kan nog drie of vier dae wees. So-iets kan in
’n nagmerrie ontaard en het al veroorsaak dat iemand nooit weer stap
nie. Daarom is die keuse van stewels die belangrikste keuse van alle
voetslaantoerusting.Wat beskerm jou voete die
beste?
Die sool van jou stewel!
Die
belangrikste is om 'n goeie sool (beskerming) onder jou voete te hê.
Skerp klippe kan na 'n paar dae se stap genadeloos op jou voete wees
en ernstige blase veroorsaak. Onthou, jy moet dalk nog vir
kilometers en selfs dae met die blase wat jy opgedoen het stap. Dit
veroorsaak dat jy kruppel loop wat nog meer blase kan veroorsaak.
Vir die
beskerming van jou voet is 'n goeie sool onder jou voet dus uiters
belangrik.
Verder word
stewels ontwerp om ondersteuning te bied aan jou enkels, wat vir
sommige stappers baie belangrik is.
Stewels kan
baie duur wees. Moet nie net vir die goedkoopste op die mark gaan
nie.
Daar is
hoofsaaklik twee tipes stewels, sintetiese of leerstewels, of 'n
kombinasie van leer en sintetiese materiaal. 'n Leerstewel is
gewoonlik duurder en swaarder maar kan ook langer hou. Dit bly ’n
persoonlike keuse.
Die stewel
moet gemaklik voel, maar pasop vir te sagte stewels wat baie
gemaklik voel. Veral sagtesool stewels kan baie gemaklik voel, maar
is nie goed genoeg vir voetslaan nie. Dit gaan nie jou voetsole
genoegsaam beskerm nie.
Vermy
stewels wat nie ’n goed gedefinieerde hak het nie. Die hak is baie
belangrik vir voetslaan, veral vir die ernstige stapper. Dit bied
jou uiters goeie vastrapplek, veral teen skuinstes en oor gladde
klippe in riviere en stroompies. Die hak kan ingehaak word agter
skurwe plekke, rande, hoeke, skeure, ens. As jou hak agter die rand
van ‘n rots geanker is, staan jy veilig teen enige skuinste of by
‘n afgrond. Stappers loop dikwels op gevaarlike plekke op
voetslaanroetes. Met ander woorde, koop ’n stewel met ’n goed
gedefinieerde hak.

'n Goeie hak
'n Goed gedefinieerde hak in aksie, dit haak vas aan die glade rots
in die water.
Volg hierdie riglyne
as jy nuwe stewels aanpas.
-
Trek altwee stewels aan, moenie net een stewel aanpas nie.
-
Gebruik stapkouse om jou stewels aan te pas. Koop eers kouse
indien jy nie het nie. Gebruik die kouse waarmee jy gaan
voetslaan.
-
Maak die veters behoorlik los, sit jou voete in die stewels,
staan regop en stoot jou voete vorentoe tot voor teen die toon
van die stewel. Druk nou jou wysvinger tussen jou hak en die
stewel in. Dit behoort in te gaan, as dit nie ingaan nie is die
stewel te klein. Doen dit met beide stewels.
-
Gaan sit, jou voet sal terug na die hak beweeg. Maak die stewels
vas.
-
Staan op en loop rond.
-
Maak seker dat jou tone nie die voorkant van die stewel raak
nie. As dit gebeur, probeer ’n groter nommer.
-
Maak ook seker jou tone raak nie die bokant van die stewel nie,
indien dit gebeur sal jy stewel met ’n breër
voorkant benodig, miskien ’n ½ nommer groter.
-
Tik met die voorkant (toon) van die stewel teen die vloer. Jou
voet behoort nie vorentoe te skuif nie, indien dit wel gebeur is
die stewel te groot.
-
As jy loop moet beide voete gemaklik voel. As een van jou hakke
oplig (“slip”) binne in die stewel is die stewels te groot.
4.
Sommige dames, mag gewoond wees aan noupassende skoene.
Stewels vir voetslaan moet gemaklik pas en nie styf aan die voet sit
nie.
Faktore wat die aankoop van stewels beïnvloed:
-
Jou
voete verander ietwat in vorm en grootte nadat dit warm gestap
is. Dit verskil van persoon tot persoon. Die beste is om jou
voete warm te stap vir tenminste 15 minute voor die tyd.
-
Moenie te veel aandag gee aan die nommer skoen wat jy dra nie,
want jou stewel gaan tien teen een nie dieselfde nommer wees
nie. Pas jou stewel aan soos uit in punt
2 beskryf.
-
Moenie wag tot jou ou stewels gedaan is voor jy nuwe stewels
koop nie. Koop jou nuwe stewels meer as een maand voor die tyd.
Loop dit goed in voor die tyd en dra dit daagliks. Doen eers ’n
kort naweek roete voor jy ’n lang roete aanpak.
-
'n
Waterdigte stewel is belangrik, selfs al beplan jy nie om in
water te loop nie. Natgedoude gras maak 'n stewel baie vinnig
papnat.
Stewels kan een tot twee nommers groter wees as jou normale skoen
wat jy dra, maar dis nie noodwendig die geval nie.
LW. Die beste stewel op aarde is nie waterdig nie as die water
dieper is as die bokant van die stewel. Dit gaan bo inloop.
Watter stewel om te koop?
Dit bly jou persoonlike keuse.
Sinteties of leer of kombinasies daarvan?
Almal is goed!
Koop dit waarvan jy hou en wat gemaklik pas.
Aanbeveling:
Die Sool: ’n
Vibram sool is ’n baie hard en bied uiters goeie beskerming aan
die voet en voetsool. Nadeel, dit moet goed vooraf ingeloop word.
“Vibram” is ’n geel merk onder aan die sool, maar pasop daar is baie
namaaksels.

Vir beide leer of sintetiese stewels is
GORTEX ’n goeie
aanbeveling. Gortex is slegs ’n eenrigtinglaag wat tussen die leer
of sintetiese materiaal en die binnekant van die stewel geplaas
word. Dit werk eenrigting, met ander woorde, dit laat vog van binne die stewel uit na
buite, maar vog of water van buite word nie ingelaat nie. LW. beide
leer sowel as sintetiese stewels kan 'n Gortex laag hê.

Die algemene aanbeveling is dus enige stewel wat ’n harde (egte)
Vibram sool het en Gortex eenrigting waterdigting!
’n Uitstekende stewel is “Lasportiva” en daar is verskillende
modelle, maar dit is nogal duur. Dit word aanbeveel vir die meer ernstige stapper. Nog
goeie stewels is Merrell of Hi-Tec.
 |
 |
 |
| Lasportiva |
Merrell |
Hi-Tec |
Versorging van stapstewels:
Dit is baie belangrik om die
winkelassistent te vra hoe om jou stewel te versorg. Nie alle
stewels word met dieselfde middels versorg nie, vind uit wat is die
beste vir jou stewels.
Die moderne stapstewel kan nie net met gewone politoer of dubbin
versorg word nie.
Ons wil dit nie eers waag om enigiets aan te beveel nie, raadpleeg
jou stapstewelwinkel.
Selfs die beste stewel bly nie waterdig nie en dit gaan beslis nodig
wees om dit te behandel met 'n waterdigtingmiddel.
Moet nooit jou stewels langs die
kampvuur droog maak nie. Dit gaan
jou stewel beskadig en die stewel se lewe aansienlik verkort.
Versorg en behandel volgens voorskrif.
Wat van stewels met Gortex
laag?
Behandel dit presies dieselfde soos wat jy enige leer- of sintetiese
stewel sal behandel. Gortex sal nie beïnvloed word deur enige
normale behandelingsmiddels soos politoer of “silicone conditioners”
nie.
Indien jy nie weet wat se
versorging voorgeskryf is nie gebruik gerus “NIKWAX”.
Dis seker die mees algemene produk en goed vir leer sowel as
sintetiese stewels. Nikwax is ’n uitstekende behandeling en
waterdigting.
Versorging stappe:
-
Was jou stewel met koue
water (net aan buite kant). Gebruik ’n lap of sagte borsel.
-
Laat dit vir ’n dag staan
om behoorlik droog te word (nie in direkte sonlig nie),
verkieslik binnehuis.
-
Wend behandelingsmiddel
(byvoorbeeld Nikwax) aan met ’n sagte spons, volgens voorskrif. .
Die stewel sal nat word van die middel en die
kleur sal donker word. Gee
spesiale aandag aan nate en vaswerkplekke.
-
Laat stewel binnehuis staan
om droog te word vir twee tot drie ure. Selfs ’n dag sal goed
wees. (Meer as een laag mag nodig wees, sien gebruiks
aanwysings. Herhaal stap 3 en 4 vir elke laag).
-
Nadat die stewel behoorlik
droog is poleer liggies met ’n sagte lap.
REëL:
Versorg jou stewels na elke voetslaan geleentheid.
Stapkouse:
Die nuwe stapkouse wat mens deesdae kry is nie meer so dik soos die
ou wol stapkouse nie. Falke Coolmax stapkouse is ontwerp vir
voetslaan, dit is gemaklik, hou die voete droog, koel in die somer
en hou die voete warm as dit koud is. Dit hou letterlik die sweet
weg van jou vel. Die grootse voordeel van Falke Coolmax kouse, dit
is nie so dik nie, baie gemaklik en dit beskerm die voetsool teen
blase.
Falke Coolmax produkte is gemaak van herwinde plastiek bottels en mens
lewer sommer 'n bydra tot 'n groener omgewing deur Coolmax produkte
te koop.
Falke
Coolmax produkte:
-
43% PAC
-
20% Comfortel
-
12% Wool
-
13% polyamide
-
10% Cotton
-
2% Elastane
|
 |
Na Bo |