TUISBLAD INLIGTING KONTAK ONS ROETES VIR DIE JAAR

Rugsakke vir Voetslaan    


     

Die rugsak is 'n baie belangrike deel van 'n voetslaner se toerusting. Alles wat jy benodig vir 'n staptoer word in jou rugsak gedra: permitte, kaarte, klere, slaapsak, kos, water, stofie, toiletbenodigdhede, ekstra warm klere, reënjas, swemklere, noodhulp, basiese noodtoerusting, flits, ens. Daarom is dit baie belangrik om die regte keuse te maak by die aankoop van 'n rugsak.

Verskillende tipes rugsakke:
Toer-rugsak (travel pack)
, word gebruik om byvoorbeeld deur Europa te toer:

  • Harnas drastelsel.

  • Skouerdraband (sling).

  • “Suitcase” tipe handvatsel.

  • Verwyderbare dagsak, ens

Voetslaan-rugsak (Hiking backpack)

  • Harnas drastelsel, baie sterk.

  • Minder toeganklik om water penetrasie te beperk.

  • Gewoonlik twee kompartemente.

  • Gewoonlik vier kantsakke.

  • Skouergordels.

  • Borskasgordel (verbind skouergordels).

  • Heupgordel (waist belt).

  • Saamdruk verstelgordels (Compression straps).

  • Ekstra gordels vir eksterne toerusting, tent, ens.

Dagsak (day pack), word gebruik vir ‘n dagstap.

Vir voetslaan gaan ons net ‘n voetslaan-rugsak en ‘n dagsak bespreek.

Verskillende tipes voetslaan-rugsakke.

Raamloos:

  • Goedkoop.

  • Liggewig.

  • Klein.

  • Kan nie 'n swaar vrag hanteer nie.

Buiteraam:

    

  • Koeler om te dra.

  • Kan 'n swaar vrag dra.

  • Goeie gewig verspreiding na die heupe.

  • Maklik om te pak.

  • Wanneer swaar gelaai is, is die gravitasiepunt ongemaklik hoog.

  • Balans van stapper nie goed nie, sak effens los.

  • Raam kan swaar wees.

  • Die Three Spears (NDABA), met ‘n “butterfly”-raam, is waarskynlik die beste en ligste buiteraam-rugsak wat ooit gemaak is, maar is nie meer beskikbaar nie. Foto’s bo.

     

Binneraam:

 

  • Duurder.

  • Goeie kwaliteit.

  • Ontwerp om jou lyf te pas (neem vorm van jou lyf aan).

  • Uitstekende gewigverspreiding oor heupe, skouers en selfs rug.

  • Voetslaner het uitstekende balans.

  • Beweeg makliker deur klein plekkies.

  • Kan ‘n swaar vrag dra.

  • Beslis 'n beter keuse.

Eerste keuse wat jy moet maak by die keuse van ‘n rugsak, watter tipe?

  • 'n Raamlose rugsak is nie goeie kwaliteit nie en behoort nie oorweeg te word nie. Behalwe in enkele gevalle.

  • Die buiteraam-rugsakke is nie sleg nie, maar word al skaars om te kry, omdat dit bewys is dat binneraam-rugsakke beter is. Op moeilike terrein, byvoorbeeld die Drakensberge, is balans uiters belangrik en kan ‘n buiteraam-rugsak gevaarlik wees. Dit het amper my lewe gekos, want die sak was swaar gelaai en die gravitasiepunt baie hoog.

  • Smaak verskil, maar volgens my opinie is die beste keuse is 'n binneraam-rugsak. Persoonlik het ek beide tipes, maar ek vind die binneraam die beste. Daar is egter mense wat net met buiteraam-sakke stap, so dit bly ‘n persoonlike keuse.

Tweede keuse is water grootte?


Min mense neem in ag hoe swaar die rugsak is voordat enige item ingesit is. Hoe groter die rugsak, hoe swaarder weeg dit. Mens koop dikwels ‘n rugsak so groot as moontlik "vir ingeval". Onthou egter, jy sal dan altyd daardie ekstra gewig moet saamdra al is die rugsak halfvol op ‘n naweekroete. Moenie te groot koop nie. Die ernstige stapper kan liewer twee sakke koop.

Rugsakke wissel van 55 liter tot so groot as 120 liter.
Daar is rugsakke kleiner as 55 liter, maar dit raak ongemaklik klein en ons gaan dit nie bespreek nie.
Groter as 85 liter raak weer ongemaklik groot en swaar en word ook nie bespreek nie.

n Mens koop ‘n rugsak om by die grootte van jou lyf te pas, alhoewel mens in gedagte moet hou wat jy beplan. ‘n Kleiner persoon wat baie lang roetes wil stap, sal dalk uitvind dat die rugsak wat by sy/haar lyf pas te klein is en ‘n groot persoon wat net korter roetes wil stap gaan uitvind dat sy/haar rugsak te groot is.

Koop dus 'n sak wat by jou lyf pas en groot genoeg is vir jou behoeftes. Gaan jy lang roetes stap, vyf tot agt dae, of gaan jy net kort naweekroetes doen. As jy lang roetes gaan stap, koop so groot as moontlik wat by jou lyf pas. Hou egter in gedagte dat dit wel gebeur dat mense wat beplan om net kort roetes te stap, later langer roetes wil stap.

  • Kort roetes:    55 – 65 liter

  • Lang roetes:     65 – 85 liter

Ons kan 'n onderskeid maak vir lang roetes:

  • Dames:  55 - 75 liter

  • Mans:    75 - 85 liter

Die algemene gevoel is dat die grootte van  rugsakke bepaal word deur die liggaamsgewig van die voetslaner. Dit moet eerder gesien word dat die grootte van die rugsak moet pas by die liggaamsbou van die voetslaner. Dit moet amper soos ‘n kledingstuk pas. As dit te groot is gaan jy byvoorbeeld nie die heupgordel kan vastrek nie en die rugsak gaan net aan jou skouers hang. Die rugsak moet pas, al die gordels moet stewig kan vastrek. 

Daar is klem gelê daarop dat die rugsak by jou lyf moet pas. Hoe weet ek wanneer die rugsak by my lyf pas?
Twee faktore is hier ter sprake:

Die lengte van jou lyf tussen die bokant die heupbene en jou skouers, soos aangedui in die skets.

Meet dit met 'n maatband.
LW die maatband moet nie styf gespan wees nie, maar moet die kurwe van jou rug volg. Dit maak dit ongeveer twee sentimeter langer. Die binneraam van jou rugsak gaan die kontoer van jou rug volg.
Die binneraam staaf lengte van jou rugsak, soos aangedui op die skets.

Voel aan die rugsak, daar sal twee aluminum stawe ingebou wees. Meet die lengte van die stawe alleen. Die totale rugsak sal langer wees.

Meet eerstens jou liggamslengte bokant die heupbene soos in bogaande skets  (L).
Dit bepaal die ideale staaflengte van jou rugsak (SL).
Die ideale rugsak se staaflengte (SL) is presies dieselfde as jou liggaamslengte (L)
SL = L
Dit is egter selde dat jy 'n rugsak gaan kry wat presies dieselfde staaflengte as jou liggaamslengte het. Dit gaan met 'n sentimeter of meer verskil.
Moet nooit 'n sak koop waarvan die staaflengte (SL) meer as 10 sentimeter langer is as jou liggaamslengte (L) nie.
Maksimum SL = L + 10 cm
Daar is nie regtig 'n minimum staaflengte nie, maar as 'n rugsak te klein is sal dit ongemaklik en klein voel as jy dit pas.

Byvoorbeeld:
'n Man met 'n liggaamslengte L = 56 cm
Maks SL = 56cm + 10 cm = 65 cm
Die Backpacker Boulder se staaflengte SL = 59cm
Dus 3 cm langer as liggaamslengte L en behoort goed te pas, verder behoort die sak ook groot genoeg te wees vir lang staptoere.

'n Dame met 'n liggaamslengte L = 43 cm
Maks SL = 43cm + 10 cm = 53 cm
Die Karrimore Jaguar se staaflengte SL = 53cm
Dus 10 cm langer as liggaamslengte L en behoort te pas, verder behoort die sak ook groot genoeg te wees vir lang staptoere.


Kyk na die volgende as jy die rugsak aanpas:

  • Sit die rugsak-harnas gemaklik aan jou lyf?

  • Pas die rugsak die kontoer-vorm van jou rug?

  • Voel dit gemaklik op jou rug?

  • Beperk dit jou beweging?

  • Kan jy opkyk sonder dat jou kop die rugsak raak?

  • Voel jou bene gemaklik as jy hurk, word jou bloed sirkulasie nie beperk nie?

  • Is daar genoeg kantsakke? (my persoonlike keuse - min 4 kantsakke)

  • Is al die gordels beskikbaar?

  • Heupgordel?

  • Skoouergordels?

  • Borskas verbindings gordel?

  • Boonste skouer verstelbande (shoulder adjust straps)?

  • Saamdruk bande (compression straps)?

  • Is die rugsak-materiaal lig en sterk (duursaam)?

  • Maak dit kraak geluide as jy beweeg?

  • Kan jy al die gordels behoorlik vastrek, veral die heupgordel?

  • Nadat die heupgordel vas getrek is, moet dit nooit oor jou heupe kan gly nie!

·         Rugsakke  bestaan uit die volgende:

Harnas

  • Die harnas verbind die skouergordels en heupgordel  aan die rugsak.
  • Skouergordels en heupgordel saam vorm die harnas.

 

  • Binneraam, twee aluminum stawe binne harnas.
  • Twee skouergordels
  • Borskasgordel of verbindingd gordel.
  • Heupgordel
Die rugsak bestaan uit twee dele of kompartemente:
  • Bo-sak.
  • Onder-sak.
Vier kantsakke is die beste.
'n Bo-sak is baie handig
Flap-sak is handig vir noodkombers (space blanket), roetekaarte, permitte, ens.
Onder die toemaak-flap kan soms ook 'n sak wees. Baie handig wees vir voertuig sleutels, geld, kompas ens.
Verstelgordels word gebruik om die rugsak stewig vas te trek as dit nie vol is nie.

Opsioneel en baie handig.

Boonste skouer-verstelbande

 

Onderste skouer-verstelbande

Dit lyk soms asof die eksta-bande onnodig lank is, maar dit is spesiaal so gemaak dat dit gebruik kan word om ekstra toerusting vas te maak. Byvoorbeeld 'n tent.

Hier is die ekstra-bande vas getrek en lyk dit nie te lank nie.

Hier kan gesien word hoe die ekstra bande gebruik kan word om 'n tent en slaapmat vas te maak. Dit word deel van die rugsak en dra gemaklik, dit is net die ekstra gewig wat bykom.
Geen rugsak is waterdig nie. Gebruik altyd 'n reën-oortrekker ("splash cover")dit help om die water uit te hou.

·         Hoe swaar kan jou rugsak met inhoud weeg?
Die algemene riglyn is nie meer as een kwart van jou liggaamsgewig nie (veral dames).
Dit is ‘n algemene riglyn wat altyd gevolg moet word.
Alhoewel dit werk nie altyd nie!
As die persoon oorgewig is werk dit glad nie. Oorgewig mense is gewoonlik nog onfiks ook en moet veel minder as een kwart van liggaamsgewig dra.
As jy kan bepaal hoeveel kilogram is jy oorgewig (daar is metodes) trek dit af van jou gewig voor jy die berekening kan doen.

Rugsak dra het baie met die liggaamskrag van ‘n persoon te maak en almal is nie ewe sterk nie. Dit is ‘n feit en ‘n faktor om in ag te neem.


Neem byvoorbeeld ‘n man van 80kg:

  • 'n Sterk man sal 1/3 van sy gewig kan dra (26kg).

  • 'n Gemiddeld man 1/4 van sy gewig kan dra (20kg).

  • ‘n Swak man sal  net-net meer as 1/6 van sy gewig kan dra (15kg).

Neem byvoorbeeld ‘n vrou van 60kg:

  • ‘n Sterk vrou sal net-net meer as 1/4 van haar gewig kan dra (16kg).

  • 'n Gemiddelde vrou sal minder as 1/4 van haar gewig kan dra (14kg).

  • ‘n Swak vrou sal 1/6 van haar gewig kan dra (12kg en minder).

Wanneer weet mens of jy sterk, gemiddeld of swak is?
Dit is baie moeilik!
Vergelyk jou met ander. Waar stap jy gewoonlik as almal ewe fiks is en almal normal stap ?
Voor, middel of agter.
Sterk, gemiddeld en swak.
Baie moeilik om te bepaal, neem maar gemiddeld.
Die krag van ‘n persoon het niks te doen met die grote, lengte en gewig van ‘n persoon nie. Groot en lang mense is nie noodwendig sterk nie en kort en klein mense is nie noodwendig swak nie.
Ouderdom en gesondheid speel ook ‘n rol. Ouer as 60 jaar skuif jou beslis ‘n vlak of twee af.

Dagsakke:
Daar is nie veel vereistes vir 'n dagsak nie, gewoonlik word dit net gebruik vir die dag se kos, water en 'n paar ekstra items. Enige tippe is goed genoeg, alhoewel 'n borskasgordel en heupgordel nie 'n vereiste is nie, gee dit baie stabiliteit.

 

Rugsak materiale word al ligter en sterker en alle bekende naam rugsakke is van 'n duursame materiaal gemaak. Die mees algemene materiale wat gebruik word is: "cotton canvas, Kodra or Cordura, Polyester, Nylon" en "rip-stop Nylon".

Rugsak ritssluiters is gewoonlik van 'n aluminium allooi gemaak om roes te voorkom. Ritse kan een van die swakplekke van 'n rugsak wees. Versorg altyd jou rugsak se ritse. Maak altyd seker jou rugsak se ritse is droog veral nadat jy in kontak met seewater was. Goeie behandeling vir ritse is 'n silikon sproei. Plastiek ritse werk makliker en het minder instandhouding nodig en is nie noodwendig 'n swakker gehalte nie.

Na Bo