TUISBLAD INLIGTING KONTAK ONS ROETES VIR DIE JAAR

Skeepswrak Voetslaanpad 


Ligging:
Die Skeepswrak voetslaanpad is geleë tussen Port Alfred en die Groot Visriviermond. Die amptelike beginpunt is by Port Alfred. Veilige parkering is beskikbaar by Paradysbos plaas.

Algemeen:
Dit is 'n 6 dag roete van 80km. Die roete is in verskillende opsies beskikbaar 6 dae, vier dae ens. Die 6 dag opsie sluit in, twee dae roei op die Kleinemonderivier. Mens stap hoofsaaklik langs die strand van Port Alfred tot by die Groot Visrivier, meeste van die oornag-hutte is 'n entjie van die see na die binneland.
Alle hutte is toegerus met stapel beddens, braai lapa, vuurmaakhout en braairoosters. Die geriewe verskil van hut na hut en sommige hutte het longdrops. Drinkwater word voorsien by elke hut.
Mens kan plek bespreek by Izak Scheepers vir verblyf, voor en na die stap. Mens kan ook met Izak re
ël om jou na die beginpunt te vervoer en weer by die eindpunt te gaan haal. Jou voertuig bly dan veilig by Paradysbos. Dit maak die logistiek baie maklik en ek kan dit sterk aanbeveel.
Daar kan ook gere
ël word om die rugsakke te vervoer van hut na hut.

   
Verblyf en vervoer by Izak Scheepers.

Dag 1:    Port Alfred na Rufanehut  (8,6km)
Die roete begin by die oostelike strand van Port Alfred, vir ongeveer 7 km lans die strand. Baie pragtig. 'n Paal op die strand dien as aanwysing om af te draai na Rufane-hut. By Rufane is drinkwater beskikbaar in houers, spoel toilet, koue stort, maar die water in die pype is lou warm vir 'n lekker stort.

   

   

   

   

 

Dag 2:   Rufanehut na Tree House (14km)
Die eerste ent is weer langs die strand tot by die Rietrivier, vir ongeveer 6km. Dan al langs die Rietrivier oor die R72  tot by die Tree House. Die Tree House is baie basies, dit is 'n boomhuis skuiling. Drinkwater word in bottels voorsien, of kook die rivier water. Daar is 'n longdrop en water kan in die rivier geskep word vir die stort. 'n Baie oulike plek, maar mens kan probleme kry as dit baie sou reën. Ons groep was gelukkig om hier 'n pragtige vertoning te sien, tussen 'n slang wat 'n klein voëltjie gevang het en deur die voëls aangeval is tot dit uit die boom geval het. Hier is baie Knysna Loeries te sien en te hoor, selfs in die Tree House se boom.

 

   

         

          

Dag 3: Treehouse na Three Sisters (7km)
Mens stap dit redelik vinnig. Three Sisters is 'n ou militêre kamp en die fasiliteite is baie basies. Drinkwater is in die linkerkantse tenk en die regterkanse tenk is vir was. Dit is net minder as 3km na Kleinemonde se winkel en ons het daar gaan eet en voorrade gekoop. Die middag het ons na Three Sisters rotse en die strand gestap, ongeveer 3km. Dit is 'n pragtige plek en mens kan hier baie tyd spandeer en foto's neem.

   


Ete by Kleinemonde

   

   

   
     

Dag 4:    Three Sisters na Kleinemonde Wes (3km) Roei (9km) stap na Lily Pad  (3km)
Die eerste gedeelte (3km) is strand langs tot by die Kleinemonderivier mond (Wes). Hier kry mens die bote en roei vir 9km op met die rivier. Baie pragtig. Daarna stap mens vir 3km in 'n wildsplaas met volop wild, tot by Lily Pad hut. 'n Pragtige hut, met donkie vir 'n warm stort. Gaan gerus na die uitkyk skuiling om die wild te besigtig.

   


Roete Bestuurder: Dave Marais!

   

        

 

   

 

 

Dag 5:    Lilly pad na Bote (3km) Roei 9km terug en stap 10km na Stone Cottage.
'n Sterk Suide-wind het ons behoorlik laat werk met die roei tot by die eindpunt. Van hier het ons eers voorrade gaan koop by Kleinemonde se winkels voor ons terug is strand toe. Dan is dit ongeveer 5km langs die strand, die afdraai na Stone Cottage is gemerk met 'n ou krat wat aan 'n denneboom hang. Maklik om te vind. Stone Cottage is regtig 'n pragtige plek. Met alle fasiliteite, elektrisiteit, yskas, warm stort, bad en spoeltoilet.

   

       

 

       .

Dag 6:    Stone Cottage na die Groot Visrivier (Einde)
Besoek gerus die Ligtoring. Vir 'n klein donasie sal die beampte mens in die toring neem en vertel hoe dit werk. Daar is ook koeldrank te koop.
Daarna is die laaste ent weer terug na die strand tot by die Groot Visrivier. Hier eindig die roete, maar ons het 'n entjie verder gestap oor die brug na die Fish River Restaurant, vir 'n heerlike ete. Izak en Dave het ons daar opgelaai en terug geneem na ons voertuie by Paradysbos.

    

   

        

Opsomming:
Die Skeepswrakroete is 'n pragtige staproete, 'n moet vir elke voetslaner. Doen gerus die roei gedeelte ook, dit is die moeite werd.
 

Fotos: Andries Oosthuizen, Daleen Crous en Jaco en Ina Malan

Besprekings:


Dave Marais
(
082 391 0647 / 046- 675 1321     :    
* P O Box 34, South Seas, 6172     :    
8 adrift@mweb.co.za    : 
: www.shipwreckhiking.co.za

Izak & Maria Scheepers offer accommodation before and after the Shipwreck Hiking & Canoe Trails.  They will also shuttle hikers to the start & pick up at the end of the hiking and canoe trails if requested.  Tel /Fax : 046-6751052  /  073 5146 045

Terug na Roetes