TUISBLAD INLIGTING KONTAK ONS ROETES VIR DIE JAAR

Oorlogskloof Rock Pigeon Voetslaanpad  


Ligging:
Neem die R27 vanaf Nieuwoudtville na Vanrhynsdorp, 6,4km vannaf   Nieuwoudtville is die afdraai links na Oorlogskloof.  Dit is ongeveer 2km duskant die Vanrhynspas. Volg die grondpaadjie vir 10km tot aan die einde by die Oorlogskloofpakering.

     

Algemeen:
Die beginpunt is by Groot Tuin en daar is geen slaap geriewe nie, daarom is dit beter om jou roete so te beplan om die eerste aand by Brakwater te slaap. Dit gee mens ook die kans om later in die dag te begin stap. Oorlogskloof se afstande is nie lank nie, maar moenie dat dit jou mislei nie, Oorlogskloof stap moeilik. Kyk liewer na die tydsduur wat dit neem.
Daar is ook nie Oornag hutte nie, net ‘n kamp met 5 tente en ‘n longdrop sonder ‘n dak of mure. Elke kamp is langs ‘n waterstroom of die rivier. Die tente is reeds daar en elke tent het 3 sponsmatrasse in, jy hoef nie jou eie tent saam te dra nie. Daar is dus plek vir 3 mense per  tent, maar moet dit nie eers oorweeg nie, die tente is te klein. Twee mense per tent maksimum en ‘n groep van 10 voetslaners. Indien mens meer mense is, neem liewer ‘n ekstra tente saam, daar is genoeg plek vir ekstra tente.
Daar is geen voetspoortjies wat die roete aandui nie, maar by elke voetpadkruising is daar ‘n netjiese bord wat die rigting aandui. Verder is daar rotse gepak en klip stapels wat die roete aandui. Die roete is baie duidelik gemerk en daar is geen probleme nie. Soms moet mens baie mooi kyk en bietjie soek om die pragtigste deurgang tussen die rotse te ontdek.
     

Moenie 'n kamera vergeet nie, want Oorlogskloof is die roete vir aksie foto's.

Dag 1: Groot Tuin na Brakwater 4km (2-3 ure)
Seker minder as 500 meter van die beginpunt
is ‘n stroompie waar mens waterbottels kan vol maak. Daar is geen vervelige oomblik nie, klim en klouter, oor rotse, deur skeure alles baie pragtig.  Dan volg die uitsig op die Oorlogskloofriviervallei, pragtig groen en mooi. Die laaste ent sak mens af in die vallei tot by die Brakwaterkamp, reg langs die Oorlogskloofrivier (en die water is nie brak nie). ‘n Pragtige kampplek, die tente is onder kareebome, mens moet eintlik soek vir ‘n tent. Drinkwater water is beskikbaar uit die Oorlogskloofrivier, helder en skoon.

         

     


Brakwaterkamp

Dag 2: Brakwater na Driefontein 8km (6-8 ure).
Begin vroeg, alhoewel dit net 8km is stap mens 6 tot 8 ure. Soos wat ons gesien het kan die watervlak van die Oorlogskloofrivier goed styg, maar gelukkig is daar pale oor die rivier, want mens kruis die rivier sommer by die kamp. 
Dag twee volg die roete die Oorlogskloofrivier, die eerste ent klim mens geleidelik op in die kloof tot bo op die plato. Om veilig bo op die plato te kom is daar ‘n  tou aangebring om jou op te trek. By moeilike plekke is lere, maar die sporte is maar ver uitmekaar.  Na ‘n ent bo op die plato is dit weer af tot by die rivier. Pragtige  inheemse woude  en soms lyk dit asof jy in Magoebaskloof kan wees. Die laaste ent is dit weer op in die kloof, maar voor jy bo is loop jy  jou vas in ‘n waterval. Hier is ‘n opening in die rots agter die waterval en gaan mens agter die waterval deur die rots en moenie dink dit is droogvoets nie, nee jy word papnat. Een van die vele avontuurlike plekke van Oorlogskloof. Fantasties!
Die laaste ent is dit op tot bo op die plato tot by Driefonteinkamp.

                   

   
Agter waterval deur die rots!

    
Driefonteinkamp

Dag 3: Driefontein na Doltuin 13,5km (6-8 ure).
Weereens af na die rivier wat nog sterk loop en oor op die pale, balanseer, balanseer, voetjie vir voetjie. Dan is dit weer op met die kloof tot by die skoorsteen, hier is dit rugsakke aangee en jouself optrek met ‘n ketting en deur die skoorsteen tot bo op die plato. Dit kan maklik twee tot drie ure om die eerste kilometer af te lê. Gelukkig  is roete verder makliker en vorder mens teen normale spoed.
By Doltuin is daar ‘n dam in die stroom en voor jy by die kamp uitkom is dit baie versigtig balanseer op die geboude wal oor die stroom. Doltuin is ‘n pragtige kampplek, met die mooiste struike, rooi, geel ,verskillende klere van oranje en pers. ‘n lieflike kampplek. Die nagte kan kou word in Augustus en by Doltuin was een van ons groep se “bladder” watersak die volgende oggend geys.

   
   

    
Skoorsteen.

        

    

   
Doltynkamp.
 

 
Bladder geys!

 

Dag 4: Doltuin na Pramkoppie 17km (6-8 ure).
Weereens inetressante rotsformasies en kort-kort is dit deur ‘n rotsboog of opening in die rotse. Ongeveer halfpad kry mens ”Arrie se Loop”. “Arrie se Loop” neem jou na die hoogste punt van die roete met ‘n pragtige uitsig oor die Knersvlakte en die Gifberg. Vanaf die uitkykpunt neem ons pragtige foto’s van die uitsig. Daarna is dit om en af met Pramkoppie tot by Pramkoppiekamp. Pramkoppiekamp is in ‘n Olienhoutbos langs ‘n water stroom. Hier is rotte wat die sponsmatrasse verniel het.

   

   


Kilometer aanwysings elke twee km.  

   

    

    

   

   
Pramkoppiekamp.

 

Dag 5 Pramkoppie na Groot Tuin 10km (5-6 ure).
Die laaste dag terug na Groot Tuin is weer eens 'n pragtige dag, maar a.g.v. swaar reën was daar geen uitsig en was ons kameras veilig gebêre in die rugsak en kon ons gevolglik nie veel foto's neem nie.

   
    

Opsomming:
Die Oorlogskloof voetslaanpad,  is een van SA se top drie roetes en 'n moet vir elke voetslaner.  Propvol, ongerepte natuur, adrenalien, avontuur en uitdagings.
Oorlogskloof is 'n onvergeetlike avontuur!

Fotos: Andries Oosthuizen, Daleen Crous, Pieter Conradie, Jurie Erasmus, JC Oosthuizen, Andries Roesch en Annatjie Janse van Rensburg.

Besprekings:
Oorlogskloof Nature Reserve
Posbus 142
Nieuwoudtsville
8108

Tel. 027 281 1159      027 281 1010

wpretorius@sp.ncape.gov.za

Terug na Roetes