 |
|
|
Naukluft Voetslaanroete
121km
|
Ligging:
Die
Naukluft Voetslaanroete is ongeveer 130km Noord-Wes van Maltahohe in
Namibië.
Neem die C14 roete vanaf Maltahohe ry Noord-Wes vir 110km en draai
links in die D854. Na 8,6km draai regs by die Naukluft ingang.

GPS hddd.ddddd
S24.22618 E16.33770
Algemeen:
Die Naukluft Voetslaanroete is 'n 8 dae sirkelroete van 121km.
Die roete begin by Hikershaven hut en eindig weer daar. Die roete
kan ook in 4 dae vanaf Hikerhaven tot by Tsams Ost gestap word.
Voertuie kan by Tsams Ost gelos word.
Die oornaggeriewe is slegs skuilings en daar is 'n puttoilet en
water. 'n Skuiling is baie basies, slegs vier mure en 'n dak. By
Ubusis is daar 'n oornaghut, stapelbeddens met sponsmatrasse.
Die roete kan 12 stappers vat, maar a.g.v. beperkte spasie sou ek
slegs 10 stappers aanbeveel. Die roete word aangedui met wit
voetspoortjies en is duidelik gemerk. Na 'n goeie reën
seisoen kan die spoortjies toegegroei wees, maak seker en soek die
spoortjies.
Ekself beskou die Naukluftroete as 'n
wildernisroete met basiese geriewe.
Verder is daar baie moeilik plekke wat op of af geklim moet word en
by alle moeilike plekke is kettings aangebring wat help met die klim. Die Naukluft is 'n uitdagende en 'n avontuurlike roete.

Hikershaven (GPS:
S24.26331 E16.23884)
Parkeer voertuie by die kantoor
Voetspoortjies dui die roete aan
Dag 1 Hikershaven na Putte Skuiling (14
km)
Die
roete begin by Hikershaven en die eerste ent word die Naukluftrivier
gevolg,
waarna
Heartbreak Pass volg met ongeveer 200 meter opdraande.
Ongeveer halfpad kry mens water in Fonteinkloof. Helderskoon en
drinkbaar, werklik 'n lieflike plek vir teetyd of middagete. Vanaf
Fonteinkloof is nog 'n opdraand tot by Crassula Corner met 'n
lieflike uitsig.
Die
Putte het sy naam te danke aan die put waaruit mens water pomp
met 'n wielpomp.




Putte Skuiling
Slaap op 'n gruisvloer
Draai 'n pomp vir water
Dag 2 Putte Skuiling na Ubusis-hut (15 km)
Die
eerste 9km bly die roete op die plato en ons het volop wild hier
gekry, Gemsbok en Sebra. By Bergpos is 'n baie duidelike windpomp as
baken.Vanaf hier gaan die roete af in die pragtige Ubusiskloof. Vyf
verskillende plekke is kettings aangebring om die klim te vergemaklik.
Werklik opwindend om met die kettings af te klim. LW op een plek is
daar twee alternatiewe kettingroetes, as jy 'n ketting vind wat in
'n diep poel water eindig, kyk na regs, daar is 'n roete regs om die
poel. Baie stappers het al hier omgedraai, kyk mooi, daar is 'n
alternatief. By Ubusis hut is spoeltoilette, windpompwater in die
hut of tydens goeie reën is daar water in
die stroom reg langs die hut. Die Ubusiskloof is seker een van die
mooiste klowe waarin ek was.
.jpg)
Windpomp naby die dag 2 en dag 3 aansluiting
.jpg)
.jpg)
Ubusishut
Dag 3 Ubusis-hut na Adelerhorst Skuiling (12 km)
Die eerste 6
kilometer is weer terug op gister se roete en op met die Ubusis kloof
en op met die kettings. Daarna is die
roete redelik gelyk op die Kuduvlaktes tot by Adlerhorst Skuiling.



Water pomp
Adlerhorst Skuiling
Dag 4
Adlerhorst na Tsams-Ost Skuiling (17 km)
Die
eerste paar kilos is redelik gelyk voor mens in die Tsamsrivierkloof
ingaan. 'n Entjie in die kloof in
is
‘n grot of rotsskeur en aan die einde van hierdie
grot is ‘n nou tonnel waar mens rugsakke moet afhaal en voor jou
deur stoot. Baie interessant en avontuurlik.
Na
'n paar kilos in die Tsamsrivierkloof klim mens weer uit die kloof
en klim dan weer terug om verby die waterval te kom. Sover ek kon
vasstel het die waterval nie 'n naam nie, so ek noem dit die
Tsamsrivierwaterval. Sover
ek kon vasstel loop hierdie waterval slegs tydens 'n 100 jaar vloed.
Ons was gelukkig om hierdie waterval te sien na 2011 se baie reëns
en vloede en dit het pragtig geloop, ons het selfs in die
watervalpoel geswem.
Na die waterval is dit nog 'n paar kilos in die kloof en die laaste
twee kilos is met die toegangspad tot by Tsams Ost Skuiling.


Tsamsrivierwaterval vloei slegs tydens 'n
buitengewone vloed (foto's April 2011)

Tsams Ost Skuiling
Let op die twee groen kaste, mens kan voor die stap soontoe ry en
voorraade daar gaan toesluit. Daar is selfs 'n slot en sleutel. Ons
het dit gedoen en dit het uitstekend gewerk.
Dag 5
Tsams-Ost na Die Valle Skuiling (17 km)
Die
roete begin dadelik met die 300 meter Broekskeur opdraande, daarna
volg dit die riviervallei tot by die Valle.Dit is
ietwat van 'n oninteressante dag.
By die Valle Skuiling was 'n waterkar vol water, want dit lyk of die
pomp en die sonpanele gesteel is.



Die Valle Skuiling
Dag 6 Die
Valle na Tufa Skuiling (16 km)
Dit was die
moeilikste dag, veral vir die voete. Op met die
Groot Hartseer opdraande tot aan die bokant van Die Valle waterval
(200 meter). Dan is dit verder op in die pragtige Vallerivierkloof verby
die tufa grotte. Tufa is versteende mos en kalksteen. Baie mooi. Ons
stap verder op in die rivierbedding (boulders op boulders) verby 'n
wildevyboom wat teen die rotse groei. Baie mooi. Verder op, nog
boulders en dit wil net nie end kry nie. As jy eers bo is sak die
roete weer af tot by die Tufa Skuiling.
Ongeveer 580 meter op en af. Aan
die oorkant van die rivier
is 'n handpomp vir water, of as die rivier
loop kan mens in die rivier water kry.


.jpg)
Tufa Skuiling
Dag 7 Tufa na
Kapokvlakte Skuiling (14 km)
Die roete begin
oorkant die rivier by die waterpomp, die eerste entjie is redelik
gelyk, dan draai mens op in 'n baie styl kloof. Hierdie
kloof het nie 'n naam nie en ek noem dit sommer Kettingkloof.
Kettingkloof klim nogal moeilik en dit het heelwat verander a.g.v.
verspoelings sedert die vorige kere wat ek die Naukluft gestap het.
Daar is 'n paar kettings om te klim voor mens by die hoogste ketting
op die roete kom. Dit is om verby die "Kettingkloofwaterval" te kom.
In April 2011 het ons hier gedeeltelik in die water geklim en was
dit nat en glad. Die gedeeltes wat nie in die water was nie was klam
en vol groen slyk, maar die rots het oral skurwe vastrapplekke en
kon ons redelik gemaklik vastrap en veilig tot bo klim. Die regte
stewels is hier van uiterste belang. Dag 7 se kettingklim is 'n groot
avontuur en sekerlik een van die redes hoekom ek die Naukluft weer
en weer sal stap. . Die totale hoogte
styging om tot bo op die plato te kom is net oor 500 meter. As jy
eers bo op die plato is, stap mens na Bakenkop en al die pad het
mens 'n lieflike uitsig oor die Tsondabriviervallei. Die
voetpad bo op die kapokvlakte
is vol klippe, vulkaniese rotsstukke
en loop baie moeilik. Hier is seker die
meeste springbokke wat ek nog in my lewe gesien het. Oral is
waterpanne (in die reën
seisoen) en volop wild.
Die
Kapokvlakte Skuiling is die middel van die
Kapokvlake-plato.

Kettingkloof

Ketting is nat en in die slyk.

Op met die kettings, leerhandskoene is 'n sterk aanbeveling vir die
nat kettings.



Bakenkop
Springbokke
Waterpan

Kapokvlakte Skuiling (en pasop vir die perdebye)

Teen skemeraand het 'n hiëna
sy opwagting gemaak en sy nekhare dik gemaak vir een van die dames
digby die skuiling, maar gelukkig nie nader gekom nie. Daardie nag
was seker een van die mooiste aande in my lewe, omring met die klank
van hiënas
en jakkalse. Gebruik gerus die plank-deur om die skuiling toe te
maak om 'n honger hiëna
uit te hou.
Dag 8
Kapokvlakte na die einde by Hikershaven (16 km)
Die eerste gedeelte is op die kapokvlakte se
Never Ending Hills en dan af langs die
Naukluftrivierkloof. In die Naukluftrivier is die
pragtigste rotspoele vir 'n heerlike swem. Die roete eindig by
Hikershaven, dieselfde plek as die beginpunt.


Opsomming:
Die Naukluftroete kan beskou word as een van die
grootste roetes is Suidelike Afrika, 121km oor agt dae maak dit die
langste roete. Dit is 'n moeilike roete en
8 dae se kos om saam te dra is
nie maklik nie.
Verder is dit 'n pragtige roete vol avontuur en opwinding. Dit is
juis die opwinding en adrenalien van die kettingklim in die klowe wat maak dat mense die Naukluft wil stap.
Die Naukluft is 'n moet vir elke ernstige voetslaner en nie vir
persone met hoogtevrees nie.

Foto's: Grobbies Grobler, Andries Roesch, Dave Roux, Annatjie Janse v Rensburg,
Coert Grobbelaar, Andries Oosthuizen,
JC Oosthuizen, Wilma du Plooy en Japie Brand.
Besprekings:
NWR Cape Town
Pinnacle Building, Burg Street, Cape Town
Phone: 021 422 3761 Fax: 021 422 5148
E-mail:
ct.bookings@nwr.com.na of
MCronje@nwr.com.na www.nwr.com.na
Terug na Roetes |