|
|
|
|
Mount Aux Sources Mei 2002
Ons is oppad - Amfiteater Sentinel Daar is min plekke wat so oorweldigend is as "Die Berg". Seker omdat mens daar so bewus is van die grootsheid van die skepping, die almag van die Skepper en die muggie-nietigheid van jou as mens. Boetie, jy weet hier dat as jy simpel is vries jy dood of waai die wind jou af (en dis ver) of val jy in 'n skeur wat regaf tot doer onder in Natal strek. En dis die wonder van 'n stap op die Drakensberge: ... dit verplaas mens bietjie af van jou posisie van in beheer wees van die wêreld na 'n posisie van nederigheid en afhanklikheid. Elaine wys na die Zig-Zags wat wag teen Sentinelpiek Om by Mount Aux Sources op die berg te kom, is nie moeilik nie. Die kontoerpaadjie vat mens tot by die kettingleer en as jy hom op is, is jy bo. En daai kettingleer is gladnie so 'n paaiboelie soos beweer word nie .... gewone mense kan hom ook klim (al kry mens so 'n "speedwobble" in die middel, waar jou arms en bene half begin deurmekaar raak en dit breinkrag vat om uit te sorteer watter ledemaat op watter stuk yster moet kom). Die gully is 'n ander alternatief om bo of onder te kom, maar dis 'n onaangename meneer ... ongeveer loodreg op (of af), gevul met los rotse en die hoofpad van die suidpoolwinde binneland toe).
Bobby en Wessel op die Kettingleer 'n Welkome nuwe toevoeging tot bergklimgerief, was die "longdrop" langs die hut (dis nou vir stappers sonder beginsels). Stappers met beginsels verdwyn met 'n grafie oor die verste randte. Ons het Vrydag en Saterdag op dieselfde plek gekamp, plek van kamp opbreek. Saterdag het ons in twee groepe verdeel. Terwyl een groep stap, het die ander kamp opgepas. Die stap was in die rigting van Mount Amery, vanwaar daar 'n wonderlike uitsig was oor Natal en die res van die Drakensbergketting. Dit was vir die meeste stappers die hoogtepunt van die naweek ... veral vir Petro, wat die eerste keer in 'n lang tyd weer gesond genoeg was om te kan stap.
Ons Kampplek naby die Tugela
Elize en Susan met hulle sneeumannetjie. Al het die son heeldag geskyn het die sneeuman nooit ontdooi nie! Ook op die berg was ons nie gevrywaar van "regstellende aksie" nie. Die plaaslike kraaibevolking het, met Ou Testamentiese wysheid, onmiddellik die dominee in ons midde geïdentifiseer, en, plaas daarvan om vir hom spys en drank aan te dra soos vir Elia van ouds, hom van sy brood en marshmallows beroof.
Hulle trotseer die koue (-6.4) en geniet die pragtige uitsig: Lenie, Elize, Susan, Jakkie en Petro Jonck
Here U Skepping is Groot en Geweldig
Ons het begin vanaf die Sentinel parkeerplek op met twee groepe. Een groep op met die kettingleer en die ander groep op met die "Gully". Die volgende dag het ons al met die eskarp geloop tot verby Mount Amery tot by 'n pragtige uitsigpunt, vanwaar ons Cathedral Peak en Champane Castle kon sien. Daar na het ons omgedraai, terug na die plek waar ons die vorige aand gekampeer het. Die volgende dag weer berg-af terug na die Sentinel parkeerplek.
Hans Ox, Wessel en Elaine
Petro Jonck, Susan, Elize en Lenie en 'n ys-blad besig om te smelt. Aan die bokant van die Ribbon-valle.
Petro op 'n baie gevaarlike hoogtepunt (ons noem dit 'Rooikop') in die omgewing van Mount Amery. 'n Pragtige uitsig, in die vêrte kan Cathedral Peak, Cathkin Peak, Monk's Cowl en Champagne Castle gesien word.
Die Toerleier aan die bokant van die Natalse Koninklike Park (amfiteater).
Groep |