Drakensberg

Champagne Castle

Dit is maar normaal om so vyf dae voor die tyd die weervoorspellings dop te hou en jou eie gevolgtrekking te maak vir die stap in die berge. Hierdie keer het dit van die begin af gelyk asof die weer nie goed gaan wees vir die berge nie. Die TV weervoorspelling en die Internet word geraadpleeg en die aand voor ons moet vertrek (6 ure voor ons moet ry) lyk die weer so asof ons dit moet afstel. Almal word gebel, jy hoor die teleurstelling, jyself is nog meer teleurgestel, jy bel weer vir almal – ons kan gaan maar as die weer te sleg is moet niemand kwaad wees as ons moet omdraai nie.

Ses ure later, na ‘n baie kort nagrus is ons oppad, baie opgewonde. Dit is plek-plek baie mistig, veral die laaste ent, van die groote Drakensberg is daar nie ‘n teken nie. Dit is asof hy homself wegsteek sodat niemand kan skrik vir die hoë pieke nie.

Dit is dig toe met die mis, maar aangesien van ons die roete goed ken begin ons dadelik te stap nadat almal ingeteken het in die bergboek van die Monk’s Cowl Bosstasie. Die roete is onmiddelik baie steil en jy voel dadelik die ekstra gewig van ‘n tent en warm klere wat saamgedra word. Dan na so twee ure se klim maak die mis-gordyn so effens oop. Dit is mooi groen met waterstrome so ver as wat die mis dit toelaat. Skielik is alles weer toe met die mis. Ons klim verder. Eers teen middag ete is die mis weg, behalwe die hoë pieke is nog dig toe.

Baie laat die middag (na 14,4 km) bereik ons Keith’s Bush Camp, aan die voet van die drie pieke Champagne Castle, Monk’s Cowl en Cathkin Peak. ‘n Lekker plek, groot genoeg en gelyk sodat ons kon tent opslaan, net langs ‘n pragtige waterstroom. Almal is moeg – baie moeg – en daar word vinnig gewerk om die tente op te kry en om die pasta aan die kook te kry (met biltong). Soos dit is in die drakensberge maar is, gaan slaap almal vroeg.

Vroeg die volgende oggend is net die hoogste piek van Champagne Castle in die mis, ons begin met die tog na bo met Grey’s pass in sonskyn en kortbroek. Dit is mooi, die asem blaas, Gatberg wat gister so groot gelyk het word nou al kleiner onder ons. Driekwart op met die piek hoor ons skielik ‘n helikopter wat soos ‘n klein muskiet tussen Monk’s Cowl en Cathkin Peak deur gevlieg kom. Die Helikopter is ver onder ons, waar ons besig is met ‘n dwars klim. Skielik sien die helikopter se mense ons en kom nader, hulle hou ons dop en neem fotos (buitelandse toeriste). Die helikopter kom vyf keer terug elke keer met ‘n vrag toeriste.

Teen middag ete is ons bo en ons gaan eet langs die waterstroom voor ons die laaste tog aanpak na die hoogste punt in Suid Afrika, wat nog rustig in die mis lê en slaap. Skielik pak die weer saam en dit begin te ysreën. So vinnig as wat dit begin het hou dit weer op en die mis begin oop te maak op die piek. Dadelik begin die laaste tog na die piek. Dit gaan swaar, die hoogte bo seevlak werk nou in op die asemhaling, een het hoofpyn, maar iets dryf jou - jy moet daar bo gaan staan.

En dan uitbundig van vreugde, met ‘n uitroep " Ek is bo op Suid Afrika" gee jy daardie laaste paar tree. Die mis het verdwyn, voor my ‘n afgrond van byna een duisend meter:

Here U is groot en almagtig. U skepping is groot en geweldig. Tog is dit wonderlik. Ek voel klein en nietig. Dankie Here dat u my die krag en moed gege het om hier te kon staan.

Jakm2.jpg (39651 bytes)

Die GPS tel vyf sateliete op en doen sy hoogte berekening: 3376 meter bo see vlak, volgens die kaart is dit 3377 meter.

Die laagste temperatuur was 3 °C, taamlik warm vir die Drakensberge. Met die mistigheid wat meeste van die tyd oop en toe gemaak het, was die Drakensberge op sy mooiste. Wat ‘n lekker tyd, dankie aan almal wat daar was.

Baie geluk aan Johan en Sarie van Zyl vir hulle eerste kennismaking met die Drakensberge.

Terug na Roetes