 |
|
|
Hoe
word ek ‘n Stapper ?
|
Baie mense wil graag
stappers word, maar kom nooit so ver om ooit ‘n stapper te word nie. Wel, wat is
‘n stapper ? Iemand wat elke oggend vir ‘n wandeling gaan is ook ‘n stapper,
maar dit is nou nie regtig ‘n stapper wat voetslaanroetes stap nie. Dit bring
ons nader aan wat werklik ‘n stapper (voetslaner) is:
‘n
Stapper hou van:
buitelewe, mooi natuur, avontuur, aktief wees, en sommer net wegbreek van alles.
As dit is waarvan jy hou, word ‘n voetslaner en stap voetslaanroetes.
Kan
almal 'n voetslaner word ?
Die antwoord is nee. Nie
almal kan 'n voetslaner word nie, party is net eenvoudig te stadig en sal 'n groep
totaal ontwrig deur te stadig te beweeg en dalk te laat na donker by die
bestemming aankom. Ander is weer te haastig en wil net hardloop, oorweeg
liewers 'n marathonklub. Daarom kan enige nuwe stapper nie sommer op
enige roete toegelaat word nie, ter wille van die persoon self en die groep. 'n Nuwe
stapper moet hom/haar self eers bewys as stapper op 'n maklike roete. Ons
bespreek gewoonlik 2 basiskamp roetes per jaar, ideaal vir beginners.
Fiksheid
In werklikheid verstaan
min mense wat fiksheid werklik is ? Jy kan hardloopfiks wees, jy kan stapfiks
wees, jy kan boksfiks wees, rugbyfiks en so kan ons maar opnoem. Die punt is net
dit wat jy doen moet jy vir ure aaneen kan doen, sonder om die volgende dag styf
te wees. Let op ek sê nie, dat jou asem nie gaan blaas nie en dat jy nie moeg
gaan word nie. ‘n Fikse persoon se asem blaas ook as hy/sy oefen, dit is dalk nie so erg soos ‘n onfikse persoon nie en dit kom ook vinniger tot bedaring.
‘n Fikse persoon word ook moeg, dit neem net langer voordat hy/sy moeg word en
as hy/sy stop (rus) herstel jy vinniger.
So voordat jy probeer om
fiks te word maak 'n kopskuif, want jy gaan nooit daai punt bereik dat jou asem
nie meer blaas nie en dat jy nie meer moeg sal word nie. Jy hanteer die
asemhaling en moeg word net beter en beter.
Wat ek eintlik probeer sê
is, oefen om die asem te laat blaas en om moeg te word !
Sommige mense kom nooit
by daai punt uit nie. Kom ek verduidelik. Sommige persone stap en sodra ‘n ligte
opdraan kom en die asem word vinniger stop hulle en rus om sodoende
nooit vinnig asem te haal nie. As jy dit doen oefen jy nie. Die groot geheim is
om te oefen en die hartklop vinniger te maak, nie te vinnig nie, maar vinniger
as normaal en dan om dit daar te hou, ja vir ure lank.
Mens kan dit doen, jy moet net oefen om dit te doen deur stadig te begin, en dan
die pas al vinniger te maak.
‘n Naelloper hardloop 100
of 200 meter teen volspoed, wat die hartklop feitlik onmiddellik opjaag tot in
die rooi, daarom hardloop hy/sy net 100 meter. Die persoon wat ‘n marathon
hardloop kan nie teen ‘n honderdmeter pas hardloop nie, daarom word die spoed
verminder totdat die hartklop verminder na ‘n hanteerbare pas. Dit neem enigiets
van 2uur 8 min tot sê 4 uur 30 min om ‘n marathon (42,2 km) te hardloop. U sien
die hartklop is vinnig vir twee tot vier ure lank en daar is baie mense wat
dit kan
doen. Jy moet net oefen, die asem opjaag binne perke en weet waar die plek is
waar jy dit kan handaaf. Dit kom net deur ervaring en kan verbeter word na
gelang jy oefen.
Hartklop
Die gemiddelde rustende
hartklop vir ‘n onfikse persoon is 72 keer per minuut. Dit wissel van persoon na
persoon, maar die gemiddelde rustende hartklop van ‘n gemiddelde fikse persoon
is ongeveer 60. Terwyl vir ‘n baie fikse persoon kan dit so laag wees as 40. Toe
ek nog marathon gehardloop het was my pols 50 slae per minuut as ek in ‘n
uitgeruste toestand was. Een ding jy kan nie sê ‘n persoon met ‘n pols van 40 is
fikser as ‘n persoon met ‘n pols van 50 nie, want dit wissel van persoon tot
persoon. Dit is eintlik net van toepassing op jouself, meet dit as jy onfiks is,
dit sal dalk 72 wees, soos wat jy fikser word sal dit verminder.
Dit is nou regtig nie
nodig vir ‘n stapper om met ‘n kartklopmonitor te oefen nie, maar indien jy wil
weet teen watter kartklop oefen ‘n mens, moet jy eers vasstel wat is jou
maksimum hartklop. Dit is moeilik, gebruik maar hierdie formule: 220 – jou
ouderdom. (Jy behoort dit te kan bepaal direk nadat jy die 400 meter regtig
voluit gehardloop het).
Kom ons neem ‘n persoon
van 50 jaar oud, die maksimum hartklop is 220 – 50 = 170. ‘n Goeie pas om teen
te oefen is teen ‘n hartklop van 60% van jou maksimum hartklop (170 X 60% =
102). So ek sou voorstel as jy wil oefen moet ‘n persoon van 50 sy pols dophou
en dit so na as moontlik aan 102 hou. Onthou net, neem dit stadig op, dit neem
twee tot 3 minute om te stabiliseer. Aan die begin druk ‘n mens maklik te veel
om dit vinnig op te kry en na 3 minute staan dit maklik op 150 byvoorbeeld, dan
het jy te vinnig begin. Neem dit stadig op! Let nou net op soos wat jy fikser
word sal jy vinniger moet hardloop om dit op 102 te hou, na ‘n paar weke. Mens
kon ook hiermee rondspeel, oefen eendag teen minder as 102 en dalk een dag in ‘n
week teen 120.
Gemiddeld - opwarm
50% - 60%
Fiks
word 60% - 70%
Arobies
70% - 90%
Rooilyn
90% - 100%
Moenie dink ‘n stapper
kan nooit by die maksimum hartklop uitkom nie, jy doen dit baie vinnig met ‘n
volgelaaide rugsak teen ‘n steil opdraande uit !
Is ek fiks genoeg
om 'n stapper te word ?
Soos ek gesê het
bogenoemde hartklop is regtig nie nodig vir ‘n stapper om te volg nie, gebruik
dit as jy wil. Berei jouself voor deur te stap, so drie/vier kilometer sonder ‘n
rugsak. Meet vir jou 'n sirkelroete uit van 3 kilometer, vanaf jou woning om 'n
paar blokke en terug. Gaan stap die 3 km roete teen 'n pas van drie kilometer
per uur. Dit gaan jou dus een uur neem om die roete te voltooi en doen dit ten
minste 4 keer per week. As jy dit kan regkry, behoort jy 'n stapper te kan
word! As jy gemaklik is daamee, stap verder of as die tyd min is stap dit
vinniger. Vergroot dan jou sirkelroete na 4 kilometer en doen dit nog steeds in
een uur (dus vier kilometer per uur). As jy wil, kan jy selfs rugsak dra met so
10 kg gewig.. Verder kan jy die Jan-trap (du Preez) doen, met een of twee
trappies (by jou agterdeur) op en af so 50 keer, 25 keer met die linkervoet
eerste en dan 25 keer met die regtervoet eerste. Later kan jy dit meer maak tot
soveel as 100 en weereens kan jy dit ook met jou rugsak doen. ‘n Trappie wat twee
keer hoër is as die normale trappie is die beste, anders gebruik die normale. Om
terug te kom na die vraag of jy fiks genoeg is, ek dink as jy bogenoemde 4
kilometer gemaklik in een uur kan stap, behoort jy meeste gemiddelde staproetes
te stap en dit te geniet.
Wat
is voetslaan roetes
?
Georganiseerde roetes,
Roetes wat amptelik
uitgelê is met roete aanwysers en oornag fasiliteite (byvoorbeeld die Otter).
Roetes in
Wildernisgebiede
Wildernis staproetes is
in 'n wildernisgebied, met geen uitgelegde roete of oornag fasiliteite nie. Die
stapper moet dus sy eie roete vanaf kaarte bepaal en in tente of grotte oornag (byvoorbeeld
in die Drakensberggebied). Die klub se bestuur kies 'n stapper wat bekend is met
die gebied en ervaring het van die omgewing as stapleier. Die Stapleier sal dan
die roete en oornagpunte bepaal.
Hoe begin ek ?
Kry jouself so ver en
neem ‘n besluit en begin sommer vandag deur ‘n voetslaanklub te kontak. Vra wat
is ‘n maklike roete en bespreek deur te betaal vir die roete. Vir ‘n beginner is
dit die beste om met ‘n basiskamp roete te begin, want jy het min toerusting
nodig. Moenie dadelik alle toerusting koop nie. ‘n Basiskamproete kan sonder ‘n
rugsak gestap word, jy kan ‘n naweektas inpak en miskien ‘n koelhouer of boks
vir jou kos. Jy het gewoonlik nie jou eie gasstofie nodig nie aangesien baie
plekke ‘n gasstoof het, of maak gebruik van die kampvuur. As jy nie ‘n slaapsak
het nie kan jy vir jou ‘n laken en ‘n kombers saam neem. Daar is gewoonlik die
een of ander vorm van kampbed of matras beskikbaar in die basiskamp. Jy kan
selfs sonder stewels ("boots") stap, gebruik jou sport skoene soos byvoorbeeld "nike"
of "addidas" ens. Ja, dit is goedgenoeg, ek gaan stap self ook soms met my
drafskoene ("asics") al het ek al 'n hele paar stelle stewels moeg geloop. Jy
sien, jy kan jou eerste roete gaan stap sonder om enige toerusting te koop. Wat
baie handig is om saam te neem, is ‘n flits.
Hoe ver stap ‘n mens
?
Vra die persoon by wie jy
die bespreking doen hoe ver dit is en hoe moeilik dit is. Is daar dalk enige
steiltes of afgronde ens. Vir jou eerste roete, kies ‘n roete wat nie langer as
12 km op ‘n dag is nie. Met ‘n basiskamproete sirkel die roete en slaap jy weer
waar jy begin het. Enige gemiddelde mens kan 12 km op ‘n dag stap selfs al is jy
nie fiks nie. As jy dit in ses ure stap loop jy teen 2 km per uur, wat baie
stadig is, so as jy 08:00 uur begin stap en jy rus vir een uur langs die pad, is
jy weer teen 3 uur terug by die kamp. Maklik, ne. Die gemiddelde tempo waarteen
gestap word, is 3 km per uur. Moenie te stadig stap en drentel nie, maar stop by
die mooi plekke, haal die rugsak af en geniet dit. Ons stap om die mooi natuur
te geniet, maar ook om ons liggame gesonde oefening te gee. Handhaaf ‘n goeie
balans. Probeer om nooit te laat by jou eindpunt (kamp of hut) aan te kom nie.
‘n goeie tyd is 16:00. Dit laat jou genoeg tyd om die plek te verken en
slaapplek te kry en jou kos voor te berei, terwyl dit nog ligdag is.
Die gemiddelde staproete
is 14 km per dag, maar dit kan so vêr wees as 22 km (dag 5 op die
Swellendamroete). As jy in die wildernes stap bepaal jy self hoe ver jy wil stap,
maar hou by bogenoemde gemiddelde. Verder kan ‘n roete van een dag tot soveel as
8 dae wees (Naukluft). Die mees gewilde is natuurlik die twee dae naweek roete.
Wat dra ek saam op 'n
dagstap ?
Aangesien dit ‘n
sirkelroete is wat gestap word, is dit nie nodig om al jou toerusting saam te
dra nie. Dit hang af van die roete. As dit al langs ‘n waterstroom is, is dit
dalk nie nodig om ‘n waterbottel saam te dra nie. Neem net die dag se kos, jou
waterbottel, toilet papier en miskien ‘n kamera of klein verkyker saam. As jy
nie ‘n dagsak het nie, kan jy jou kos en water dalk by iemand anders in sy
dagsak sit en om die beurt help dra. Dit gebeur nogal dikwels. Anders kan jy dit
in jou hand dra, selfs in ‘n "Checkers" sak. Dra twee liter water vir ‘n dag
saam as daar nie water langs die roete is nie. Wat kos betref, word daar
gewoonlik teen ongeveer 10 uur gestop, ek noem dit ‘n "snack" tyd of teetyd.
Party dra ‘n klein gasstofie saam en maak nou tee. Eet ‘n "snacker" of iets
waarvan jy hou. Of maak vir jou koeldrank met "Game". Teen ongeveer een uur is
dit etenstyd en die ete verskil van persoon tot persoon; kaaswiggies, provitas,
miskien biltong, tuna, toebroodjies, "Lemon Cream" beskuitjies en "game"koeldrank
of koffie, ens.
Wat eet jy die oggend
of aand by die hut
?
Ontbyt: Beskuit en koffie
is baie gewild, of "weatbix" of "Oat-so-easy" of dit waarvan jy hou. Vir die
aandete braai ons gewoonlik al twee aande vleis. Bring jou vleis in ‘n koelsak,
of draai jou gevriesde vleis toe in koerantpapier dit werk goed. Kyk wat doen
van die ander stappers of doen dit waarvan jy hou.
Wat
van ‘n rugsakroete
?
Nou stap ons van die een
hut na ‘n volgende hut en het jy ‘n rugsak nodig om al jou toerusting saam te
dra. Die volgende basiese toerusting
is nodig; stewels,
rugsak, slaapsak, flits, kastrolletjie ("billie-can"),
gasstofie, ens. en onthou om alles waterdig te verpak, gebruik plastiek sakke.
Die beste rugsak is nie waterdig nie. Onthou al jou kos wat jy gaan eet en warm
klere moet in die rugsak ingepak word. Sien die
staplys wat nodig mag wees en moenie die toiletpapier vergeet nie.
Wat van ‘n roete in ‘n
wildernis gebied?
Hier is nie oornag
fasiliteite nie en jy moet jy ‘n tent saam dra. ‘n Drieman tent wat tussen twee
persone gedeel word is die ideale oplossing. Tente is swaar, so probeer om twee
saam in ‘n tent te wees sodat julle saam aan die tent kan dra, een dra die
paaltjies en die ander dra die res van die tent.
Met watse klere stap
ek ?
Omdat jy jou selfs op ‘n
koelerige dag warm stap, is dit die beste om so gemaklik as moontlik aan te
trek. Die meeste stappers stap met ‘n kortkroek en ‘n golfhemp. Dames, enige kortbroek soos wat vir jou gemaklik is.
Baie dames trek ‘n ski-pant onder die kortbroek aan. ‘n Katoen hemp is die
gewildste of ‘n golf hempie. Dit is belangrik dat dit 'n hemp met ‘n kraag is (nie
‘n T-hemp nie), die kraag help om sonbrand te voorkom. Verkieslik ‘n kleur wat
nie so maklik wys as dit dalk vuil sou word nie. Katoen onderklere is die beste.
Met watter skoene moet
ek stap ?
Die belangrikste is jou
skoene of stewels. Dit is moeilik om te sê watter stewel om te koop, want elke
persoon het sy eie manier van stap. Wat goed is vir die een gaan dalk ‘n ander
blasé gee. ‘n Redelike stewel om mee te begin is ‘n Hi-tec stewel, dit is ‘n
ligte stewel wat maklik inloop en wat goeie beskerming aan jou voete bied. Dit
is ‘n enkel hoogte stewel en bied redelike ondersteuning aan die enkels. Die
sool bied ook redelike goeie beskerming aan jou voete, maar die veerkrag in die
sool hou nie so lank nie, maar dis nie so ‘n duur stewel nie. Goed om mee te
begin en dalk stap jy jare daarmee. Net so belangrik is jou stapkouse, stapkouse
soos wat jy by enige stapwinkel kan koop.
LW die nuwe stapkouse wat mens deesdae kry is nie meer so dik soos die
ou wol stapkouse nie.
As jy jou stewels gaan koop, is dit
belangrik om eers kouse te koop en pas jou stewels aan met die stapkouse.
Koop jou stewels een tot twee nommers groter as jou normale skoen wat jy dra,
maar nie te groot nie. Saam met die stapkouse sal dit gemaklik pas. As jy van
dik stapkouse hou, koop dit gerus, niks fout daarme nie.
Hoe ry ek na 'n
Staptoer ?
Gewoonlik reël die
stapleier met die stappers wie stel hul motors beskikbaar vir ander stappers om
saam te ry. Die Stapleier reël dan wie ry saam met wie. Alhoewel ons help om die
vervoer te reël is die NDABA klub nie verantwoordelik om vervoer te verskaf na
enige staproete en terug nie. Verder aanvaar ons geen aanspreeklikheid of
verantwoordelikheid nie, dit is op eie risiko. Ons kan ook geen koste vergoeding
vir die motoreienaars voorskryf nie. Elkeen kan sy eie reëling tref. Ons stel
egter die volgende riglyn voor: Die persone wat saamry betaal vir die brandstof
en die eienaar van die motor niks. Dit is, om in 'n mate te vergoed vir die
motoreienaar se slytasie. Byvoorbeeld vier persone ry saam in 'n motor, drie
betaal vir die brandstof en die motoreienaar niks.
Die beste is om te begin
stap en doen jou eie ondervinding op. Daar is baie boeke oor voetslaan geskryf, lees
gerus "Volledige Voetslaangids vir Suider-Afrika" deur Jaynee Levy. Ons klub het
die boek, kontak die bestuur. Luister gerus maar wat ander doen en pasop vir die
grootpraters wat al die roetes gedoen het en te veel bangmaak stories het.
Meer inligting vir
voornemende lede.
Lekker stap.
Na Bo
|